|
Bapedi Skaap Telersgenootskap van Suid Afrika |
|
Last Updated: 25 February 2010 |
Ras Standaard van die Bapedi Skaap Hersien: 6 Januarie 2006
Die Bapedi Skaap Ras Standaard word deur die Bapedi Genootskap van Suid Afrika beheer, wat op sy beurt affilieer is aan die Suid-Afrikaanse Stamboek- en Veeverbeteringsvereniging, soos ingelyf volgens Wet 25 van 1977.
Met teenstrydighede van die Afrikaanse weergawe teenoor die Engelse weergawe van die ras standaard, sal die Afrikaanse weergawe as die korrekte meester geag word.
Die Bapedi Skaap
Bapedi skape word suid van die Soutpansberg aangetref en het die tipiese voorkoms van ons inheemse skape. Die Pedi is ‘n skaap wat maklik is om mee te boer en wat ‘n goeie kwaliteit vleis en vel produseer.
1. Algemeen
Die Pedi skaap is primêr ‘n veldskaap het ‘n relatiewe fyn raam. Die ooie is relatief klein gebou en vroulik teenoor die ramme weer manlik en op en wakker is. Die skaap is aangepas vir geharde omstandighede en kan verskeie stresvolle omgewings hanteer. Die skaap kan lang afstande loop en vreet gras, bosse en blare. Die Pedi is gehard en het ‘n hoë verdraagsaamheid teen algemene siektes en parasiete. Die vleis is sag en smaaklik. Die meeste van die vet is in die stert gelokaliseer. Funksionele doeltreffendheid is van uiterste belang.
2. Raseienskappe
‘n Natuurlike poenskop haarskaap met ‘n wigvormige vetstert. Die lengte van die stert varieer met maksimum lengte tussen die hakke en die pote. Die ras het ‘n lewendige voorkoms en ‘n gemaklike gang met sterk kudde eienskappe. Die ras is baie vrugbaar, die ooie het sterk moeders-instinkte en is baie beskermend oor hul lammers. Hulle tande is sterk en hard wat langlewendheid teweeg bring.
3. Kop
‘n Lang neus wat krom na onder is meer prominent in ramme. Klein horingkies ("scurs") kan by ramme voorkom. Gemiddelde grootte oë, helder en bruin van kleur. Die oë word deur goed ontwikkelde oogbanke en beweegbare ooglede beskerm. Die ore is smal en van gemiddelde lengte en word met ‘n hoek van 45o tot die kop na onder gedra. Die ooie het ‘n klein keelvel vanaf die kakebeen na die nek. Hierdie keelvel is langer in ramme.
4. Grootte
‘n Relatief klein-raam skaap met ‘n tipiese simmetriese respiratoriese tipe bouvorm. Volwasse ooie meet vanaf 60cm skouerhoogte. Die lyf is lank, smal, ovaal en horisontaal effens vlak. Die top-lyn oor die kop is konkaaf en strek afwaarts in die nek, opwaarts oor die skouer, en weer afwaarts na die rug en weer opwaarts na ‘n goed ontwikkelde agterlyf met ‘n tipiese hangkruis. Die bene is relatief lank en dun, maar sterk en goed geplaas. Sterk en goed geboude hoewe met goeie pigment en verkieslik ‘n inter-digitale klier. Goed ontwikkelde dyspiere. Gewrigte is redelik lank, teen ‘n hoek en veerkragtig, en nie kort en regop nie.
5. Kleur en Haar Bedekking
Terwyl ‘n groot verskeidenheid kleure voorkom, moet die neus, ooglede en die ore goed gepigmenteerd wees. Die vel is gepigmenteerd en kleur varieer vanaf eenvormig bruin deur wit met ‘n rooi tot bruin kop tot ‘n verskeidenheid bruin en wit of swart en wit patrone tot eenvormig swart. Enige swart is geneties resessief. Die hare is oor die algemeen kort met ‘n kasmier tipe onder-haar bedekking, veral in die winter. Jong skape is geneig tot langer hare met meer wollerigheid. Hulle verloor dit wanneer hulle ouer word. Gekleurde dele van die vel behoort te blink.
6. Stert
‘n Tipiese wigvormige vet stert wat vet is by die basis en wortel-vormig na onder vernou. Sommige diere het ‘n korter bo deel met ‘n opwaartse draai by ‘n dunner terminale punt. Gedraaide (kurktrekker) sterte is nie toelaatbaar nie. Die lengte van die stert is variabel, maar behoort nie verder as halfpad tussen die hakke en die pote te strek nie.
7. Vrugbaarheid
Die ras is bekend vir hoë vrugbaarheid en sterk moederinstinkte. Tweelinge kom voor en ooie kan wel al twee groot maak. Pedi’s word vroeg volwasse en kan op ‘n vroeë ouderdom gedek word.
8. Reproduktiewe Organe
Die ramme het goed ontwikkelde testikels met ‘n gladde beweeglike skrotum.
9. Foute Waarteen Gediskrimineer Word
10. Diskwalifisering Foute
11. Definisies
Respiratories bouvorm – ‘n Wigvormige, vertikaal afgeplatte ribbekas met ribbe wat ‘n effense helling in ‘n posterior rigting vorm wat veroorsaak dat die torso wyer word na agter in teenstelling met ‘n silindervormige torso wat gevorm word deur ribbe wat loodreg met die rugstring staan soos algemeen by Europese skaaprasse. Die voordeel van ‘n respiratories tipe is dat ‘n dier meer ekonomies asemhaal in warm droë omstandighede asook dat ‘n kleiner deel van die torso aan direkte son bestraling blootgestel word.
Funksionele Doeltreffendheid – Die somtotaal van al die raseienskappe wat die Pedi ‘n doeltreffend vleisskaap maak wat met min koste of bestuur in veld omstandighede kan floreer.
Moedereienskappe – Die ingebore instink van die ooi om haar lam te beskerm en groot te maak.
Aanpasbaarheid – Die genetiese vermoë van ‘n dier om by ‘n verskeidenheid van omgewings toestande te kan aanpas en oorleef.
Veldskaap – ‘n Skaapras was goed aangepas is om in ‘n variasie van ekstensiewe veld toestande met min bestuur te kan oorleef in teenstelling met rasse wat slegs binne intensiewe omstandighede en bestuur ekonomies kan produseer.
______________________________________________ |
|